Hierdie artikel ondersoek die raakvlakke tussen teologie en wetenskap in die lig van die dreigende ekologiese krisis.1 Die gevolgtrekking is dat teologie in hierdie diskoers geneig is om al hoe meer induktief te werk te gaan, terwyl wetenskap weer abstrak neig deur byvoorbeeld die belang van waardestelsels uit te lig en na nuwe inklusiewe paradigmas te soek om die dreigende omgewingskrisis aan te spreek. ’n Hand word in hierdie soeke na nuwe waardestelsels gevolglik ook na teologie uitgesteek. ’n Selferkende naturalis, Edward Wilson, rig selfs ’n direkte uitnodiging aan geestelike leiers om saam met die verskillende wetenskappe vir die ekologiese krisis te help oplossings soek. Die verslae van die Klub van Rome (Club of Rome) word as voorbe...