• Opsomming: In hierdie artikel word die geskiedenis behandel van die gebied in Noordwes-Kaapland wat oorspronklik deur die Boesmans (San) bewoon is. Dit ondersoek die geleidelike noordwaartse uitbreiding van die Kaapkolonie totdat die Oranjerivier in 1847 as die noordgrens van die gebied verklaar is. Hierteen het sowel die San as die Koragroepe wat langs die Oranjerivier woonagtig was, gereageer deur die veeboere te beroof wat die gebied uit die suide binnegetrek het. Die gevolg was twee konflikte, bekend as die Noordgrens-oorloë, wat finaal 'n einde gemaak het aan die jarelange botsings in hierdie landstreek. Al hoe meer boere het hulle permanent in die gebied gevestig, nuwe distrikte is geproklameer en owerheidsbeheer het toegeneem. Al...