• Opsomming: Die distrik Middelburg was aanvanklik deel van die Republiek van Lydenburg. In 1860, dit wil sê nog voordat daar in 1864 tot die stigting van die dorp Middelburg oorgegaan is, is hierdie gebied by die Zuid-Afrikaansche Republiek ingelyf. Van 1866 af het die dorp as Nazareth bekend gestaan totdat die Volksraad die naam Middelburg in 1874 in ere herstel het. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog is die dorp deur Britse magte beset wat ʼn militêre en ʼn konsentrasiekamp daar opgerig het. Die dorp wat in die begin stadig ontwikkel het, het mettertyd ʼn belangrike rol op kerklike en onderwysgebied gespeel. As gevolg van die groot toename van die inwoners en snelle vooruitgang wat Middelburg die afgelope twee dekades beleef he...